21/07/2010: Oooo die Slagveld is ‘n wonderlike ding……

O die Slagveld, o, die slagveld,

O die slagveld is ‘n wonderlike ding.

Hy laat jou kla, kom vra my ou bra,

O die slagveld is ‘n wonderlike ding.

Net nou die dag praat ek weer met die argitek voorheen en huidiglik bekend as (en ek moet wragtig op my foon kyk om sy naam te onthou) hhhmmmmm, (hier maak ek nou my e-mail oop om sy naam te onthou), Warren. Toe ons begin het met die Slagveld was sy vrou swanger, hy het nounet sy seuntjie se tweede verjaarsdag gevier. En dis al wat ek nou eers daaroor gaan se.

Fluitend loop bergie voor my huis verby, “Wat ‘n vriend het ons in Jesus”, en hy hou die noot. Die huis ja, in die Woodstock in, wat ek en djC intussen gekoop het, gerenoveer het, (k@k idée, K@K ideeeee!!!! – woorde en sinne soos “jy luister nie”, “ag k@k man” en “jy verstaan my verkeerd” word nie net gereeld nie, maar partykeer op herhaaldelik grondslag ge-uiter) die huis in die mark gesit,  al aanbod voor gekry en geteken het. Wil nie verkoop nie, maak nie saak wat ek nounet hierbo gese het nie, gelukkig moet die kopers nog by die bank verby kom en ons weet die stand van sake met die “&%#^$*# “ma se” &*#%@$&” institusies. (Maar dit is resessie, en ons het dit mos nou gedoen, en kan mos die geld vir die Slagveld gebruik, of kyk of ons besigheid vir dJ kan opsit, of Slagveld op sit en besigheid doen, of nog huis koop en weer vir mekaar “ag k@k man”, jy luister nie” en “jy verstaan my verkeerd” se, of die geld vat en restaurant in Oz by dJ suster hulle gaan oopmaak, of, of, of). Daar is opsies met alles in die lewe se ek mos altyd. Maar die is soos eet by restaurant met 10 bladsy menu – watter een vat jy, watter een los jy, en watter een hou jy in jou kop vir volgende keer?

Sit en dink ek nou aan Mark, wat se vrou Corene al moes of besig is of binne oomblikke gaan kraam, voor ons die Slagveld begin het was nie een van ons eers getroud nie! Ek weet in vandag se tye maak dit nou nie eintlik saak nie, maar nog steeds, ek het die jaar immers my 40ste gevier, so laat ek nou maar nog in daai terme dink asseblief – daar is tog so min van die dingetjies oor waarmee ons groot geword het waarmee ons onsself kan vereenselwig.

Die 40ste verjaarsdag partytjies. Ek is so bly ek is klaar daarmee. Hoe sake gestaan het is dat Dr Awerbuck alias Jannie amper so 2 maande voor my verjaar. Toe begin ons alby se verjaarsdae vier: Eers by syne, toe sommer reguit deur na myne. Dan is ons in die Paarl, dan is ons in die Kaap, dan is ons op die Plot, dan doen ons dit weer, en so aan vir twee maande lank. Ek is baie bly dis klaar – Jannie, dis klaar hoor, jy kan nou ophou……

So het Mark en ek die regte gekry om volgende jaar die offisiele Up-the-Creek dvd te mag maak (hede: dit het toe nie gebeur nie), so is my skoonpa deur 3 gewapende mans aangehou, waarna hulle die op pad weg van die toneel in Spietkop doodskiet, (ek mag Spietkop se want my Pa was een) so word my geliefde vrou amper deur 4 mans aangeval dat sy een met haar kar ondersteboller ry om weg te kom, (baie trots op jou baby!!!), so word my swaer se vrou swanger, so gaan kuier my vrou vir haar suster in Oz en vertel watter nice plek dit nou eintlik is, so kry ek weer vir Robert Kirsten in die hande na amper 4 jaar, op Facebook nogal .

Die spoed waarteen ons beweeg in vandag se tye is net ongelooflik – kom ons kyk na Micheal “the king of Pop” Jackson se dood. (Julle laaik hom ook man, nog is daar nie wit man gebore wat nie sy privaat vasgegryp het en met dubbel bene vorentoe gespring het nie, nog is daar nie vrou wat “I love you Micheal” uit volle bors geuiter het terwyl daar ‘n man met hand op privaat vorentoe spring nie – ek was al by troues) Ek hoor die oggend 08h00 van sy afstorwe, die middag 4 uur is 10 van sy ou liedjies in die top 40 “downloaded” liedjies, 4 dae later het 8 van sy ou liedjies die 1ste tot 8ste plek op die top 40 treffers, terwyl hulle besig is om sy memorial konsert te hou, enkele sekondes na ‘n liedjie klaar gesing is kon jy dit koop en download vanaf iTunes. Dink in verlede – jy moes ten minste ‘n maand of twee wag net om een van die her-uitgerykte cd’s te kan koop, dan nog ‘n jaar om “The Greatest of Greatest Platinum Hits”- “disk 1” te kon koop, ons gaan nie eers plate toe nie, ek het te min tyd om daaroor te tik. Nou, net sekondes. (Moet asb dit net nie vir die Breeland munisipaliteit se nie – toe ons die Slagveld begin het was daar nog nie eers Facebook nie)

Maar ek dink wat ek eintlik wil se is ons is nog hier, dinge gaan nog aan en ons hou nog oog op die Slagveld.

So, tot volgende keer:

O die slagveld. O die slagveld

O die slagveld is ‘n wonderlike ding

Teenspoed van voor, maar gemoed loop oor

O die slagveld is ‘n wonderlike ding.

 

Afrikaner Slim

“If you don’t want waves, don’t allow me to play in the water.” – 2009

Posted in Uncategorized | Lewer kommentaar

08/08/2008: Honeymoon, Groenland en Mozzies

Goeie mense wat aandagtig probeer konsentreer op hierdie juiglike dag:

Klein stappie, maar tog noodsaaklik om in die klein veldslae ook suksesvol te wees om die oorlog te wen. Aangeheg vind die “Slagveld Revue Lodge cc“ wetlike dokument wat se ons is in besigheid. Klein, maar net om die naam te gekry het was toe ook nie so maklik soos eers gedog. Maar nouja, gaan julle nie verveel met die deel nie, baie ander material wat ek julle mee kan verveel.

Ek sien nounet ek het julle voor die troue laas laat weet wat aangaan, jinne, ek het baie nuus. Troue was natuurlik fantasties, die DJ mooier as ’n mens, ek wat sweet soos vark reg vir slagpale, groot knop en vlak trane toe sy in die plek ingestap kom. Maar dis al ou nuus en ek het mense al tot vervelens toe ge-dvd – (nes mense met lelike kinders en dom honde) – die mooiste dvd wat ek nog gesien het, wat nog ooit gemaak is.

So gaan ons op honeymoon, yo, yo, yo – romantiese, tropiese eiland Zanzibar. Lekker ne!!! MAAR NIE VIR HONEYMOON!!!!!!!!!!!!!!! Ek en die Dj is gelukkig al rukkie saam en dit was vir ons meer travel as honeymoon, maar as jy nou iemand as nuutgetroude wil impress – MOET NIE OP HONEYMOON NA TROPIESE EILAND GAAN NIE!!!! Gaan Noordpool toe, Ysland, miskien tot Groenland, Alaska lyk cool, tot Ceres in die winter. Want kom ons kyk so na die tropiese eiland honeymoon scenario:

  1. Dis warm. Dis bloedig, bleddie, vogtig en onsettend warm. Jy sweet, op plekke waar jy nie gewoontlik sweet nie, tot plekke waar jy nie gedink het plekke is nie, daar sweet jy. Ek dink mens sweet sommer intern ook. So al drink jy hoeveel bier – en glo my jy drink bier – en water (nie kraan water nie, dit gee jou ope lyf, maar meer daarvan later) jy raak lam van dehedrasie, dan drink jy nog bier om dehidrasie te oorkom en raak lam van dronkwees. So jy is lam…..
  2. Aan die begin is die plaaslike bevolking vir jou snaaks. En hulle vernekery is cool, en jy baklei met hulle oor alle pryse, enige iets wat hulle jou verkoop, maar dis mos nou maar Africa, en jy is happy want jy is nounet met die liefde van jou lewe getroud, so alles is cool. Maar na 10 dae en jy is lus vir gewone Coke, en dieselfde bliksem wat jy al die heel week mee baklei, en aan einde van elke baklei $1 in plaas van $5 vir ’n Coke betaal, probeer jou nog steeds $5 vra vir Coke, dan is jou humor redelik min, want:
  3. Jy het van die water ingekry, nie gedrink nie, net tandegeborsel. So jy spandeer tyd op die troon, kwaliteit tyd, baie daarvan. Al wat verskil is die posisie – maar mens moet seker dankie se jy is so nou en dan op jou kniee anders raak jou bene lam van so sit.
  4. MUSKIETE!!! Honger, groot, bzzzzzzzzzzzzzzzzzzzzzzzzzzzzzzzzzzzzzzzzzzzzzzzzzz, spuite so groot soos brypenne, met malaria as geskenk vir reg om jou  te  besuie. So jy spuit al wat spuitgoed is, plak plakkers, brand kerse – en die wat my ken weet ek gaan groot om die mozzies weg te hou van my af. So julle spuit en beskerm, maar jy is op honeymoon, en jy is mos maar nou meer stuitig as gewoontlik. En liefie kom verby jou gewals met lyfie wat jou tart, want jy is verlief, verlore, jy’t so verdwaalde uitdrukking in jou oog, jy begin kwyl en gryp en soen, op plekke, waar daar van die spuitstof is. Die wat dit nog nie ondervind het nie, gaan spuit gou bietjie antiperspirant op jou tong en kom lees verder. Jou tong is onmiddelik een drooge bal, met die bitterste aalwyn bitter wat jy nog teegekom het. Maar jy is braaf, want liefie moet niks agterkom nie, jy is immers pas getroud en het ego om te beskerm. So jy lek later die kussing om van die goed ontslae te raak, maak sulke ahhgggg, aaahhhggggggggg, aaahhhhhhgggggggggggggggggggggggggg klanke, so romanties wat jy aaahhhgggggg nou kan laat klink, maar niks help nie, net coke – waarvoor jy nie nou die krag het om 10 minute voor te baklei nie.
  5. So is jy nou op die romantiese eiland met jou bokkie, liefie, al die stres van die troue agter die rug – so jy doen die regte ding en drink jou malaria pille want laaste ding wat jy wil he om jou romantiese tyd te versteur is      malaria – ook bitter, maar jy is voorbery met coke. En as jy nou soveel tyd soos ek op die troon deurgebring het begin lees jy enigeiets, shampoe      bottletjies, moisturise blikkies, skeerrroom bottles, Meflaim malaria pille inligtings brosjures:

En ek haal aan:

Warnings: Mefloquine may cause psychiatric symptoms in some patients, ranging from anxiety, paranoia and depression to more serious hallucinations and psychotic behavior. In some instances, these symptoms have continued long after mefloquine was stopped, according to reports. Rare cases of suicide and suicidal ideation have been reported……………….. 

Lekker honeymoon julle!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!

Maar ek sal alles more weer deurgaan met die DJ aan my sy, twee keer. Dit was fantastiese lekker plek, paar foto’s vir julle. Regtig die moeite werd om te gaan besoek – duik, duik en duik, swem, swem en swem, strand, strand en strand, seekos, seekos en nog seekos, en goedkoop, as jy jou baklei ken, sommer baie goedkoop.

Lieflike dag, naweek, aand, jaar. Slagveld kort nou nog een parkeerplek dan mag ons bou, maar al genoeg daarvan. Ekt so lanklaas gemail, gedink ek wag dan kon ek julle verras met verwikkelinge oor bou, maar nogmaals nee. Gelukkig vier ons die klein welslae op die Slagveld ook, en die is een.

Afrikaner Slim

Posted in Uncategorized | Lewer kommentaar

25/3/2008: Geskiedenis, roadbloks en ‘n oop gemoed.

Hello julle ouens

So sit en tik ek in McGregor, huisie van Mark se ma, die plek waar die hele McGregor ding eintlik begin het, lank, lank gelede.

So teen die middel van negentien honderd nege en negentig stap ek en Mark vir eerste keer in McGregor omdat ek een aand daarvan gedroom het; en toe per ongeluk die polisie se rekenaar hier moes kom regmaak; en toe omdat ek dit toe weer op tv sien; en toe regtig omdat ek een aand by my ma-hulle se huis in groot weemoed sommer sit en deur padkaart blaai en op McGregor oopmaak – en sien dis net 50km van my ma-hulle se huis af. En toe regtig egtig omdat ek en Mark ’n roadtrip doen na pels van ons in Robertson en die Saterdag ry ons sommer McGregor toe. En die plek maak my rustig, A.D.D sommer vergete, ons stap in die hoofstraat, ons stap af in een van die sy strate, en daar sit rook sulke lekker ouens rondloer loriere onder ’n boom, en hulle vra vir ons of ons nie van hulle koeldrank wil he nie. (Regtige koeldrank, die groenes, en die ouens bied sommer aan, vir ons, verniet.) En omdat ek toe nog jonk en wild is trek ons ook maar saam, wil mos nou nie sit kyk hoe net die ander ouens lag nie. Ons sien die ‘te koop’ huis, ek en Mark sit offer in, maar my finansies lykie goed nie, so Mark en sy ma koop die huis en Mark se ma koop toe later die ander deel oor by hom, en so kom ons nou hier in Mcgregor en bly dan in Mark se ma se plek wanner hulle nie hier is nie.

Maar wat my laat terugdwaal in die geskiedenis en laat skyf is ’n roadblok wat ek en die DJ deur is net ander kant my ma hulle se huis in Rawsonville. (Jannie, anner kant is nou aan die anderkant van waar jy nou sit met die plek genoem in die middel. As jy aan die ander kant van die plek kom, is waar jy was – “die“ plek, maar eintlik is “die plek“ nou offisieel die “ander kant“ plek.  Jannie is oorsonklik van die Vrystaat en verstaan nog nie so lekker die Kaapse manier van rigting aanwys nie.)

Ek dink toe aan die roadbloks van die lewe, die plekke waar jy noodgedwonge moet stop, gefors word om te stop. Daar waar jy moet afdraai, waar jou spoed gebreek word, waar jy sommer skuldig voel oor dinge wat jy twee maande terug gedoen het al het jy niks om te verklaar nie. Jy’s nie lus vir stop nie, nie lus vir nice wees nie, Bruce Spingsteen is dan nou besig om ’n liedjie net vir jou te sing – maar wat ek toe aan dink is dat soos jy die situasie benader so is die uitkoms. Wees bedagsaam, vriendelik, oop gemoed en tien teen een kry jy dieselfde terug van die arme drommel wat moet werk op Paasnaweek. Wees ’n ass, en daar sal met jou ge-ass word.

So kom ons darm toe hier op McGregor sonder om ge-ass te word, hier vir die Paasnaweek, met pragtige Dj wat se lyfie aan die wegkwyn is van stress en fietsry wat hier voor my le op matras. Ons gaan weer die trou venue beskou voor die groot dag des dagtes wanner ons in die eg verbind word op 19 April. Ons moet afmetings maak vir lig dinge, DJ se hare wat blykbaar oefen lopie met kry voor die troudag se haar gebeurtenis. Ekt nie geweet hare kan ook oefen nie, maar as dit moet, dan moet dit, want op die stadium is enigeiets reg en mooi en goed en sonder bedenking………… deels omdat daar darm nog iets oor is om aan te vat en deels omdat ek in die toekoms nog baie sal wil vat.

As julle gedink het ek sit skryf al weer twak is julle reg, want op die Slagveld front word daar al weer gewag, en paar mense het gevra ek moet darm weer iets die lig laat sien. Nog net twee weke blykbaar, vir die planne om goedgekeur te word, wat eers hersien moes word; wat toe weer ingehandig moes word; wat ingehandig is maar nou nie op die tafel is nie en weg is; wat toe weer ingehandig moes word. Maar dis darm nou nie of ek nog nie daai een al meer as 27 keer gehoor het nie. Hierdie keer egter, benader ek die situasie kalm, sonder kras woorde, met oop gemoed, (ek moes darm nie weer iets betaal nie so daar is, soos altyd, positiewe in enige situasie),  en rustig, want soos jy die situasie benader so is die uitkoms. Kom ons kyk of dit hier ook gaan werk!

So mooi mense en julle ander, hopelik skryf ek spoedig met die goeie nuus dat die planne deur is en ons kan begin bou. Fantastiese dag, week, maand, en onthou – benadering is die antwoord op daai vraag wat nooit gevra word nie.

Afrikaner Slim

Posted in Uncategorized | 2 Kommentaar

2008/01/21: GROOTSTE BUUS OOIT!!!

Mens, mense, mensterstes

So kom die groot wag vandag tot einde en word ek emosieloos meegedeel – na ek al heel week bel verlede week, en weereens moes wag – “Meneer, (ja, ons spreek mekaar formeel aan) daar is geen verdere kapsie gemaak teen die voorgestelde hersonering van erf 284 McGregor nie.”

Ek dog ek soen haar, telefonies, maar aangesien ek al so baie “maar’s” teegekom het weerhou ek my van foon-foreplay. “So dis nou dit, Mevrou, geen verdere verwikkelinge nie? Niks wat ek verder hoef te doen nie, niks wat iemand anders nog kan doen om die hersonering te belemmer nie?”

“Nee, Meneer, net die geld (natuurlik nog geld) in ons rekening betaal en ek stuur aan jou die hersonerings brief.” Nou is ek sommer lus vir haar, verby soen lus, en was dit nie vir djC en my voorgenome huwelik (vir die wat nie weet – 19 April) het ek vir mev Ferreira regop laat sit in daai ongemaklike munisipale kantoor stoel, en defnitief van haar die spreek week in Ashton gemaak. Hulle sou die dominee moes roep om te kom lawe, of duiwels uit dryf, ek weet tog nie…

Verlig soos min sit ek nou hier waar daar onmiddelik oorgeskakel moet word na 2de rat. Die planne gaan so ietwat gewysig word, quotes sal gekry word, en die dag wat ons die eerste graaf in die grond steek (raak ek sommer al weer lus vir mev Ferreira) gaan geloof word en daar sal verseker ‘n kiekie na julle ge-mail word. Snaaks en weirderig hoe vinnig mens vergeet van al die k@k van die afgelope 9 maande se “stuggle” – amper soos 5 minute na Eskom se krag weer aan is.

So totsiens tot volgende mail

Happy, verlig, geseend, reen val waar my bokke wei, son skyn, lewe is lied – sommer top 20 treffer op Springbok radio lied

Afrikaner Slim

Posted in Uncategorized | Lewer kommentaar

10/12/2007: Lang tyd, geen mail, stadige dinge en wag…..

Goeie dag en maand en happy Christmas en voorspoedige Nuwejaar, sommer gelukkige verjaarsdag, moedersdag, vadersdag, voorspoedige Paasfees en veilig ry, Eid Mubarak, en dan alles wat ek nog vir julle voorspoed oor kan toewens. Lang tyd laas gesels, maar ek het gewag vir nuus in verband met die Slagveld sodat ek julle nie verveel met net my gebabbel nie.

En ek het gewag, nog gewag, weer gewag, vergeet ek wag, onthou toe ek wag, toe wag ek nog ’n rukkie en uiteindelik bel ek vandag en kry die goeie nuus: die hersonering van die Slagveld is deur die munisipale raad goedgekeur!!

FANTASTIES!!!! GROOTSTE NUUS NOG!!!! En ek raak bly, sommer baie bly, tot ek natuurlik die opvolgende nuus, oor die nuus, ontvang: “ons moet net wag, want dit moet 21 dae le en dan moet ons natuurlik nog geld betaal en dan kan ons die papiere kry dat alles deur is”. Gelukkig het ek ondervinding van wag so dit behoort makliker te wees.

Dit laat my toe dink aan ’n Chinese storie: die twee Chinese omies sit en gesels eendag en die een se maar hoekom begin bou hulle nie ’n huis nie? Die ander Omie dink daaroor en se “Jissie, ek dink nie dis so goeie plan nie, dit gaan lank vat, seker ten minste 5 jaar – dink waar ons gaan wees in 5 jaar“ (In Chinees natuurlik) Omie een kyk hom toe so en se: (ook in Chinees) “Ja, jys reg, ons gaan seker ver wees en paar dinge gedoen het oor die  5 jaar, maar ten minste gaan ons ’n huis ook he.“

So dis nou hoe ek daarna kyk, wag is die moeite werd, nie net gee dit die ding waarvoor jy wag meer waarde nie, as mens dit eers het, het jy dit, en die lewe gaan aan rondom wat jy voor wag. Winnie the Pooh het die volgende te se gehad oor anticipation: ”There is moments before you eat honey that is actually better than while you are eating it“.  Seker soos foreplay, blykbaar ook lekker, en gelukkig niks met wag te doen nie……

Dit is nou maar dit vir vandag, net vinnig vir julle laat weet dat julle nie hoef te wag vir mails om deur te kom in verband met die Slagveld nie, ek wag. En tot ek die wetlike dokumente in my besit het gaan ek nie vir julle bom met nuttelose inligting nie, maar laat julle lewens aangaan. Wag vir dinge wat die moeite werd gaan wees, maak dinge die moeite werd waarvoor gewag word, en hou die dinge waarvoor gewag was in jou kop en wanner dit jou probeer onder kry, onthou hoe die wag was.

Groete

Afrikaner Slim

(PS: tyd – Huidig. Sien ek nou ek het die mail 4 jaar plus terug geskryf – en mense het daar vir jou goed intussen gebeur!!!)

Posted in Uncategorized | Lewer kommentaar

04 July 2007: Drome

Geagte luisteraars

Hoop dinge gaan goed met julle almal en dat die voorspoed julle verveel. Nie baie tyd gehad die laaste maand of so nie, finansieele jaar einde bring mos maar die dier in enige tiepe verkoops persoon uit, veral as jy paar rand nodig het om jaar te maak. DIS GEMAAK!!

So het ons al ons eerste werks naweek op die Slagveld gehad, vind foto’s aangeheg, geneem deur ons vriende Bianca en Heinrich, wat, al is hulle onlangs getroud, die tyd buite die binne kamer afgestaan het om te kom kyk hoe die Slagveld vorder. Die feeskomitee is baie trots op hulle!!

Ons het gewerk dat ons poep op die Slagveld, Janneman het vernuftigheid van 13de legion se top krygsman met byl getoon wat alle verwagtinge oortref het. Hy het korte mette gemaak met reuse boom wat uitgehaal moes word, sonder dat sy haarstyl eenkeer omgekrap is. En so boom was nogals tameletjie – reuse kettang is aangeskaf en ons het hom met bakkie geruk dat ek gedink het die onderstel gaan agter bly. Dan is dit weer kap, ruk, nog kap, ruk, ruk, ruk, nog kap, ruk, vloek en dan ruk, maar hy is uit. Nog bome is afgekap, bome is gesnoei, olyfbome is geplant, eerste vetplante is in, die kruie tuin is uitgele en grond bewerk vir plant, die draad is gespan, water aangele, als met hulp van twee handlangers – Josh en D. (ek kan glad nie D se naam onthou nie, maar daai twee kan werk!) Ok is Jannie onmiddelik hulle hero omdat hy van die Bloubul spelers ken. Die nuus is so vinnig deur die dorp ‘n pa het sommer kom aanklop met wyn asem en al, rugbybal onder een arm en kjind onder ander, dat Jannie hom bietjie trieks met die bal leer!! Was baie snaaks……….

Die planne is nou by die munisipaliteit, etlike forms moes ingevul word en briewe is geskryf om te verduidelik hoekom ons die lodge wil opsit en wil hersoneer, ook die boulyne wil laat skuif en dies meer. Ek het my beste soppy styl uitgehaal en verduidelik hoe goed dit vir die “community” gaan wees, die werk skepping, man, basies, volgens die brief gaan ons eiehandig soveel geld in die area laat instroom hulle kyk al klaar om skool ,of straat, of so iets dergliks na ons vernoem te kry.

Maar dit voel goed om so droom te sien verwesenlik, maak nie saak van koste. (Het ek nou daai gese?) Want kostes is die een ding wat nerens agterbly nie. En mens dink dis nou die einde dan vang hulle jou weer. Vir elke liewe ding by die munisipaliteit betaal jy, en nie bietjie nie. Ek kan nie verstaan hoe munisipaliteite mense die fooie kan vra wat hulle vra nie ? R2 200 net om kraan op pyp te sit (nee, jammer, onthou ek nou ek moes die kraan aansit so ek weet nie regtig waarvoor ons moes betaal nie), R4 800 net om na planne te kyk en « ja » of « nee » te se. Volgens my moet hulle die mees winsgewende maatskappy wees. En julle weet van hulle harde werks etiek na vorige mail, en dan staak hulle nog!!!! Kan jy dit oorvertel ? So in my mal kop werk ek nou die dag uit dat met die 1.5% ekstra verhoging wat die mense nou kry, hulle omtrent 6 jaar moet werk om net gelyk te breek vir die geld wat hulle verloor het omdat hulle nie salarisse kry as gevolg van die staking nie? Wel, terug by die droom. En so van drome gepraat:

Ons Janneman, aka Louis, aka DrJ, aka Luicius Verenus is op pad om een van sy drome te verwesenlik en uiteindlik sy held, alma mater, mentor en algemene groot gees te gaan ontmoet. Hy en Willie Nelson behoort teen volgende week hierdie tyd hande te geskud het en/of vredes pyp te gerook het. Ons het hom erg laat oefen om hom reg te kry vir sy uitstappie, en dit kom noual lang tyd, so voel ek dan die jaar is jaar van drome verwesenlik. Maak nie saak hoe lank dit vat nie, maak nie saak hoeveel dit kos nie, geen prys kan daarop gesit word wanneer dit verwesenlik word en vir ewig in jou geheue in ge-ets is nie. Soos in vorige mail gestel, begin net iewers, en nou se mail, hou net aan, dit het Jannie jare gevat om Willie te kan ontmoet.

As mens iets regtig graag wil he en mens sit die tyd in, maak werk daarvan, maak nie saak hoe groot of klein, maak ten minste een van jou drome verwesenlik raak in die jaar van 2007. En dis so snaaks, as mens net bietjie tyd spandeer gebeur sulke onverwagse wendings wat mens help om daar te kom, party mense noem dit geluk, ek noem dit uitkoms. Vra maar vir Janneman, onverwags ontmoet ons mal Amerikaner wat mense ken wat Willie se assistant ken en siedaar. Sulke dinge gebeur as jy dit laat gebeur.

Heerlike toekoms vir julle, praat weer gou, en laat dit gebeur.

Afrikaner Slim

Ps: baie snaaks, kry ek nounet faks van akte kantoor wat se ek moet R45 betaal om afskrif van akte vir Slagveld te kry, en ek moet gou maak want elke fax kos R3, baie snaaks.

Posted in Uncategorized | Lewer kommentaar

17 May 2007: Die Eerste Stap

Geagte verkrygers van die mail

Dinge het regtig wending geneem en tel spoed op in die ontwikkeling van die Slagveld. Planneman Warren het ons idees op papier gesit en dit is nou by die Breerivier Munisipaliteit. Nie dat dit so maklik was soos dit klink nie, munisipaliteite en goeie dienslewering sal mos nou nie noodwendig in een sin gebruik word nie.

Vir ‘n week gesukkel om grond uitleg uit hulle te kry. Dame is siek, niemand anders weet wat om te doen nie. So praat ek met volgende persoon in skakel, wat al te lekker wil gesels, want sy het niks om te doen nie aangesien sy nie werk van die siek dame af kry nie, en so gaan die skakel aan. Niemand wat iets met die siek dame te doen het werk nie, hulle kry dan niks van haar af nie. Besigheids kontinueteit is blykbaar iets wat net korporatiewe maatskappye al van gehoor het.

Onmiddelik skakel ek HR om aansoek te doen vir ‘n pos, enige pos, maar blykbaar klink ek net te entoesiasties en dit sal nie duig nie. Planneman Warren ken egter al die mense en hy is besig om tot die hersonering vir ons te reel, skuif die boulyne net soos dit ons pas, hy weet presies wat die “Heritage Committee” verwag, goeie kerel se ek julle. So kry ek die grondplan uiteindelik, gedateer September 1939, in voet uitgemeet, vierkantige blok geteken op A4 met A-B-C-D op die hoeke. Maar die pragtigste vierkant op A4 geteken met A-B-C-D op die hoeke wat ek nog gesien het en ek is opgeswel van trots. ‘n Ander tiepe opswel as wat die Dj in my veroorsaak, maar amper net so lekker.

Die water word na die plot aangele soos ons hier lees. Maar alles kos geld, en okie min nie. Janneman Louis reken hy gaan sommer dat sy pasiente hulle skulde reguit in my rekening inbetaal. Behalwe vir die bond van die grond het ek en Janneman Louis etlike duisende uitgehaal, dinge wat mens nie altyd voor budget nie, maar wat tog betaal moet word. Die trek en/of bou in plattepand van die yuppie garde wat so na die rustigheid verskuif kos geld, en mens word dit nooit gese nie.

Dit kos geld om rustig te raak. Ding is seker dat mens moet keer dat die maak van geld nie die lus vir rustigheid oorskrei nie. Of die rustigheid die maak van geld ,om rustig te wees, nie oorskrei nie. Of kom mens eers agter ,as jy rustig is, dat die maak van geld om die rustigheid te bekom eintlik oorbodig was? Ek wetie, maar ek gaan uitvind, ten minste het ons iewers begin, en dis mos maar die eerste stap om enige iets te wil beryk. Begin net iewers…..

Dankie

Afrikaner Slim

(PS: Tyd – in hede. Hoor storie nou die dag by vriend van my oor hoe sy pa, landboukundige van formaat, deur die regering aangestel was so paar jaar terug om boerdery tussen die plaaslike bevolking te bevorder. Hy kry die gemeenskap bymekaar onder die standaard boom waar almal sit, en begin verduidelik hoe mens jou wins moet terugploeg in jou boerdery.

“So in jaar een, moenie al jou geld gebruik na die oes nie”, se hy, ” hou bietjie geld terug en die volgende jaar koop jy trekker”. “En dan?” vra die PB. “Dan plant jy meer en oes meer en het meer geld die einde van jaar twee, en dan hou jy van daai geld terug en koop nog ‘n trekker en ‘n stroper en dan het jy meer geld einde van jaar twee.” “En dan?” vra die PB weer.

Nou teen die tyd raak die oom bietjie kort van draad en se: “Wel, dan hou jy so aan en na ‘n paar jaar het julle genoeg geld en dan tree julle af en sit lekker onder die boom en doen niks.”

Waarop hulle antwoord: “Maar ons sit dan nou lekker onder die boom………..”

Posted in Uncategorized | Lewer kommentaar